In gevaar: skiet ek of nie?

03 September 2020 131

In die lig van onlangse hoë profiel strafreg-verhore, kommissies van ondersoek en die oormaat misdaad- en polisie-reekse op TV, kan die publiek nie kwalik geneem word vir die algemene opvatting dat ‘selfverdediging’ ‘n aanvaarbare meganisme is om jou veiligheid te verseker nie. In ons samelewing waar misdaadsyfers vir gewelddadige misdade kommerwekkend hoog is, is dit belangrik om die beginsels agter die regsterm “noodweer” te verstaan – meer gepas aangesien dit nie beperk is tot eie verdediging nie – en wanneer jy mag of nie mag skiet nie.

Wanneer geweld teen iemand gemik word, sal ‘n hof besluit of ‘n misdaad gepleeg is deur die volgende elemente van die misdaad in ag te neem: 

  • Gedrag – die teenwoordigheid of afwesigheid van ‘n spesifieke menslike daad. 
  • Kousale verband – of die gedrag gekoppel kan word aan die beskuldigde. 
  • Onregmatigheid – of die daad regverdig kan word of nie.  
  • Skuld – of die gedrag doelbewus of nalatig was, en of die beskuldigde in staat was om op daardie tydstip tussen reg en verkeerd te onderskei. 

Noodweer is inderdaad een van die verwere wat ingespan kan word om gedrag te regverdig wat andersins onwettig sou wees. Dit is egter nie ‘n verweer vir alle omstandighede nie en daar moet ook gevra word of die optrede en geweld wat gebruik is redelik of onredelik was onder die omstandighede. 

Verbeel jou die volgende basiese gevalle: 

  1. Mnr. A loop op ‘n besige sypaadjie wanneer hy genader word deur mnr. B wat aandring op sy beursie. Dit lyk nie of mnr. B ‘n wapen het nie, maar hy is ‘n intimiderende karakter. Mnr. A pluk sy pistool uit en skiet mnr. B in die bors, wat hom laat sterf. 
  2. Mnr. A word wakker en vind mnr. B in sy slaapkamer waar hy aggressief, met sy vinger op die sneller, ‘n pistool op mnr. A en sy vrou rig. Mnr. A pluk ‘n pistool onder sy kussing uit en skiet mnr. B, wat hom laat sterf. 

Tydens die verhoor van mnr A (in beide scenarios), pleit hy noodweer as gronde vir wat hy beskou as die wettige doding van mnr. B. Voordat so ‘n verweer aanvaar word, sal ‘n hof die omstandighede rondom mnr. A se gedrag oorweeg en die ‘redelike man-toets’ toepas deur te vra “wat sou ‘n redelike man in dieselfde omstandighede gedoen het?” ‘n Hof sal dan die volgende faktore ondersoek: 

  • Of ‘n onwettige aanval plaasgevind het, of op die punt was om plaas te vind. 
  • Teen wie of wat die aanval gemik was en of dit ‘n persoon of eiendom was wat van belang was om beskerm te word. 
  • Of optrede noodsaaklik was om die bedreigde persoon of eiendom te beskerm en of daar alternatiewe opsies was om die bedreiging af te weer. 
  • Of die optrede gemik was op die aanvaller. 
  • Of die optrede toegepas in verhouding tot die bedreiging was.

In aggenome hierdie faktore, is dit waarskynlik dat ‘n hof sal bevind dat in die eerste scenario ‘n mens kon sê dat ‘n onwettige aanval teen mnr. A en sy eiendom op die punt was om te gebeur en dat sy lewe en eiendom waardig was om te beskerm. ‘n Hof sou egter moontlik bevind dat ‘n redelike man in dieselfde situasie as mnr. A die noodlottige skiet van mnr. B as onredelik sou beskou, aangesien alternatiewe opsies en/of mindere krag toegepas kon word met dieselfde uitkoms. Byvoorbeeld, as die aanval op ‘n besige sypaadjie gebeur het, kon ‘n redelike man roep om hulp, weghardloop, of as ‘n laaste uitweg, die pistool uitpluk en die aanvaller waarsku om hom uit te los. Daarby sou gereken word dat ‘n redelike man bewus sou wees dat ‘n skoot in die bors meer waarskynlik noodlottig sou wees as, byvoorbeeld, ‘n waarskuwingskoot of skoot in ‘n voet. In hierdie geval, dui die waarskynlikheid daarop dat die optrede van mnr. A nie in verhouding was tot die onwettige aanval deur mnr. B nie en sal mnr. A se gedrag dus as onregmatig beskou word. 

In die tweede geval, sou ‘n mens ook kon sê ‘n onwettige aanval op mnr. A en sy vrou se lewens was op die punt om te gebeur en waardig van beskerming deur aggressiewe optrede teenoor die aanvaller. Die hof sal in alle waarskynlikheid ook bevind dat ‘n redelike man in dieselfde situasie sou gereken het daar was beperkte geleentheid om van die gevaar te ontsnap, dat dit hoogs onwaarskynlik was dat hy mnr. B sou kon ontwapen of oorweldig sonder om hulle veiligheid in gedrang te bring en dat, as daar nie onmiddellik opgetree sou word nie, hy en sy vrou moontlik in ‘n noodlottige situasie sou wees. Daarvolgens het mnr. A as ‘n laaste uitweg die enigste optrede gekies wat effektief in so ‘n situasie sou wees, naamlik om ‘n skoot op die aanvaller af te vuur met die bedoeling om hom te ernstig te wond. In hierdie omstandighede sal ‘n hof meer waarskynlik bevind dat die krag gerig op mnr. B in verhouding en regmatig was. Dit is van kritieke belang om te onthou dat gevolge altyd voortvloei vanuit dade en dat die gebruik van geweld nooit ligtelik opgeneem moet word nie. Waar geen ander opsie redelik beskikbaar is nie, mag geweld ingespan word teen ‘n aanvaller. Die omstandighede van elke saak is egter uniek en ‘n mens kan nie een besluit om geweld toe te pas vergelyk met ‘n soortgelyke besluit onder heel ander omstandighede nie. Eweneens, wat ‘n regverdigbare verweer mag wees of nie, sal altyd met omsigtigheid benader moet word. Woede of vrees moet nooit alleen gebruik word om die uitoefening van geweld te regverdig nie en die vraag “om te skiet of nie te skiet nie” kan slegs beantwoord word met “het ek enige ander opsie?” 

 

Share: