www.weichkriel.co.za
 

Tender Information

Naam & Van: 
Entiteit (Trust/Maatskappy indien van toepassing):
Dui asseblief by watter firma/instansie se advertensie en/of sosiale media u kennis van hierdie tender ontvang het:  

Save

 

News & Resources

 
 
 
 
 
 
 
 
 
Basiese voorwaardes vir plaaswerker kontrakte
29 August 2013
 

In die algemeen word die meeste werknemers beskerm deur die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat die standaard stel vir minimum diensvoorwaardes. Om kwesbare werknemers in sekere sektore te beskerm, word sektorale vasstellings gemaak wat voorsiening maak vir minimum diensvoorwaardes vir werknemers in daardie sektor. Een so 'n sektor is die landbou-industrie waar Sektorale Vasstelling 13 die basiese diensvoorwaardes en vergoeding van plaaswerkers in Suid-Afrika reguleer.

Wie word beskou as 'n plaaswerker?

In kort, sluit ‘n plaaswerker enige persoon in wat by boerdery-aktiwiteite betrokke is, insluitend 'n algemene werker op 'n plaas, huiswerkers wat werk in 'n huis op 'n plaas asook 'n sekuriteitswag (nie werksaam in die private sekuriteitsbedryf nie) wat in diens is om die plaas en gebiede waar boerdery aktiwiteite plaasvind te beskerm.

Moet ek 'n geskrewe kontrak met 'n plaaswerker hê?

Dit is altyd beter om 'n skriftelike kontrak tussen die werkgewer en die plaaswerker te hê aangesien inligting rakende vergoeding en skriftelike besonderhede van diens soos vereis word deur Sektorale Vasstelling 13 dan in die kontrak ingesluit kan word.

Daar is hoofsaaklik twee vorme van skriftelike kontrakte wat 'n werkgewer kan aangaan met sy plaaswerker:

  • Permanente dienskontrak - die plaaswerker word permanent in diens geneem vir 'n onbepaalde tydperk.
  • Vaste termyn dienskontrak - die plaaswerker word net vir 'n vasgestelde periode van tyd, soos uiteengesit in die kontrak, in diens geneem.

Wat moet ingesluit word in die kontrak?

Dit is belangrik om te kyk na wat ingesluit moet word in jou plaaswerker kontrak, ongeag of dit 'n permanente of vaste termyn dienskontrak is.

Die volgende belangrike items moet aangespreek word in die kontrak (let asseblief daarop dat hierdie nie 'n geslote lys is nie, maar slegs riglyne verskaf rondom 'n algemene kontrak en kan verdere klousules ingesluit word na gelang van geval):

  • Kontakbesonderhede
  • Plek van werk
  • Werksure
  • Lone / betaling
  • Oortyd
  • Voordele
  • Aftrekkings van die salaris
  • Verlof
  • Beëindiging van indiensneming

Wat is die toegelate werksure van plaaswerkers?

'n Plaaswerker mag nie meer as:

  • 45 uur in 'n week; en
  • 9 uur op enige dag as hy/sy vir 5 dae of minder in 'n week werk; of
  • 8 uur in 'n dag, as hy/sy vir meer as 5 dae in 'n week werk.

Oortyd is enige werk wat per ooreenkoms verrig word en wat die bogenoemde ure oorskry. As 'n plaaswerker vereis word om oortyd te werk, moet hulle betaal word vir die oortyd gewerk teen 'n koers van 1.5 keer die werker se normale loon. Andersins kan 'n ooreenkoms bereik word met die plaaswerker waar in plaas van betaling vir enige oortyd gewerk, die werknemer tyd af gegee word.

Nagskof werk (na 20:00 en voor 04:00) kan slegs gewerk word or vereis word indien skriftelik so ooreengekom word met die plaaswerker en vervoer beskikbaar is aan die plaaswerker. Plaaswerkers sal vergoed moet word vir nagskofte met 'n bykomende toelaag van ten minste 10% van hul gewone daaglikse loon.

Waar van plaaswerkers vereis word om op Sondae en openbare vakansiedae te werk, word as algemene reël vereis dat dubbele vergoeding aan die plaaswerker betaal moet word.

Is daar minimum lone / betalings?

Sektorale Vasstelling 13 maak voorsiening vir minimum lone en tariewe vir plaaswerkers waaraan alle werkgewers van plaaswerkers moet voldoen en moet ingesluit word in hul plaaswerker kontrakte. Hierdie lone en pryse moet jaarliks in ooreenstemming met die betrokke vasstelling aangepas word.

• Maandelikse tarief  R2, 274,82

• Weeklikse tarief  R525.00

• Daaglikse tarief  R105.00 (dit is van toepassing op plaaswerkers wat 9 uur per dag werk)

• Uurlikse tarief R11.66

Kan aftrekkings gemaak word?

'n Werkgewer moet sekere verpligte statutêre aftrekkings byvoorbeeld WVF en LBS maak van ‘n plaaswerker se lone indien van toepassing. Bykomend is daar ook ander aftrekkings wat per ooreenkoms tussen die plaaswerker en werkgewer gemaak kan word, byvoorbeeld waar die werkgewer die plaaswerker van verblyf voorsien kan 'n aftrekking van hoogstens 10% van die plaaswerker se loon op ooreengekom word op voorwaarde dat hierdie verblyf aan sekere basiese voorwaardes voldoen. Daarbenewens kan aftrekkings vir mediese hulp, pensioenfonds ens. ook ooreengekom word. Werkgewers moet egter versigtig wees wanneer dit by aftrekkings kom en vooraf seker maak dat hulle wettiglik toegelaat word om die aftrekkings te maak in terme van Sektorale Vasstelling 13.

Watter vorme van verlof moet toegestaan word?

Die volgende tipes verlof moet ingesluit word in die plaaswerker kontrakte:

  • Jaarlikse verlof
  • Siekteverlof
  • Gesinsverantwoordelikheidsverlof
  • Kraamverlof

Hoe kan indiensneming beëindig word?

Die plaaswerker moet kennis gee as hy/sy die werksverhouding wil beëindig. Indien die plaaswerker vir minder as 6 maande werk, moet 'n kennisgewing tydperk van 1 week gegee word. Indien die plaaswerker vir meer as 6 maande werk, moet 'n kennisgewing tydperk van 1 maand gegee word. Dit word aanbeveel om hierdie minimum periodes ook in die plaaswerker kontrak te vervat. Die werkgewer mag slegs die plaaswerker se diens beëindig ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Kennisgewing moet skriftelik gegee word, maar as die plaaswerker nie kan lees of die skriftelike kennisgewing sou verstaan nie, sou dit beter wees om die kennisgewing mondelings aan hom / haar te verduidelik in 'n taal wat hy / sy kan verstaan.

Waar kan ek 'n afskrif van Sektorale Vasstelling 13 kry?

Om te verseker dat jou plaaswerker se kontrak en diensvoorwaardes in lyn is met Sektorale Vasstelling 13 vir plaaswerkers, word dit aanbeveel dat 'n afskrif van die sektorale vasstelling byderhand gehou word. 'n Afskrif kan afgelaai word van die Departement van Arbeid se webwerf by www.labour.gov.za  welke afskrif ook 'n pro forma kontrak formaat bevat vir 'n plaaswerker wat handig deur werkgewers gebruik kan word.

 
 
 
Tags: Farming, Agri, Labour