Ek wil ‘n huis of plaas koop / verkoop: wat is ‘n aktevervaardiger (“conveyancer”)?

15 February 2016 874

Ek wil ‘n aanbod maak om ‘n eiendom te koop. Die verkoper (of sy agent) dring daarop aan dat ons van ‘n spesifieke prokureur gebruik moet maak om die oordrag te doen. Wat is my regte? En wat is die verskille tussen ‘n aktevervaardiger, akte- of transportbesorger, “conveyancer” (sinonieme) en ‘n oordragsprokureur?

‘n Toegelate prokureur is nie outomaties ook ‘n aktevervaardiger nie. ‘n Prokureur moet ‘n verdere eksamen (die Nasionale Aktebesorger Eksamen) slaag, en daarna toegelaat word as ‘n Transportbesorger van die Hooggeregshof van Suid-Afrika. Die eiendomsbedeling in Suid-Afrika is baie gesofistikeerd, met talle belanghebbendes en rolspelers wat deur ‘n transaksie beïnvloed word, en dus is die proses van oordrag kompleks. Dit is ‘n spesialisveld in die reg, en slegs dokumente wat deur ‘n aktevervaardiger opgestel en onderteken is kan by die Registrateur van Aktes ingedien word. Daarby vereis sommige banke dat ‘n aktevervaardiger ekstra versekering uitneem om hul spesifieke verhoogte professionele risiko’s aan te spreek (daar is gewoonlik groot bedrae geld ter sprake in eiendomsoordragte).

In Pongola is daar slegs twee praktiserende aktevervaardigers, naamlik Paula Janse van Rensburg en Bea Weich (beide direkteure van Weich & Kriel Ing. Prokureurs).
Pongola eiendomme (soos ander eiendomme in KwaZulu-Natal) val onder die jurisdiksie van die Pietermaritzburg akteskantoor. ‘n Aktevervaardiger word vir Suid-Afrika aangestel, en kan dokumente by al die akteskantore in die R.S.A. indien. Daar word uiteraard net ‘n beter infrastruktuur opgebou ten opsigte van die sentrum binne wie se jurisdiksie die meeste van die transaksies val.

Wat gebeur as ‘n firma aangewys word as die oordragsprokureur(s), waar daar nie ‘n aktevervaardiger werksaam is nie? Sodanige firma moet die transaksie verwys na ‘n toegelate aktevervaardiger. In die praktyk sal ‘n aktevervaardiger (wat byvoorbeeld in die stad praktiseer) ‘n ooreenkoms met die plaaslike prokureur aangaan, in terme waarvan hulle die oordragsfooie deel. Die plaaslike prokureur bekom die inligting, en stuur dit deur aan die aktevervaardiger, wat die dokumente opstel en indien. Die nadele verbonde aan sodanige reëling is egter:

1. “Too many cooks spoil the broth”: die insluiting van ‘n ekstra stel prokureurs kan die proses vertraag;
2. Die plaaslike prokureur neem dikwels nie voldoende instruksies by die kliënte nie, omdat hy/sy nie ‘n spesialis is in hierdie veld nie, en nie die regte opleiding ondergaan het nie;
3. Dit is moeiliker vir die koper om ‘n afslag op fooie te beding, omdat die koek reeds deur meer partye verdeel moet word;
4. Die “verwyderde” aktevervaardiger verstaan nie noodwendig die plaaslike kompleksiteite nie, byvoorbeeld die rolspelers in die suikerbedryf en die invloed van ‘n rietleweringsooreenkoms en waterregte op die oordrag van ‘n suiker perseel.

Die aktevervaardiger verteenwoordig beide die verkoper en die koper in ‘n eiendomsoordrag, welke verhouding deur streng etiese reëls beheers word. Die ideale situasie sou wees indien die verkoper en die koper ooreen kan kom op welke aktevervaardiger aangestel word, en dan vir daardie persoon instruksies gaan gee om die koopkontrak op te stel. Sodoende word die meeste misverstande vroeg uit die weg geruim, en kan die oordragsproses op die regte fondament (die koopkontrak) gelê word.

Wat gebeur as die partye nie kan ooreenstem op ‘n oordragsprokureur nie? Die praktyksreël is dat, in KZN, die koper dan die oordragsprokureur nomineer. Dit is gewoonlik ook die koper wat die oordragsfooi betaal.

Indien daar ‘n eiendomsagent by die transaksie betrokke is, het die agent waarskynlik ‘n mandaat by die verkoper gekry. Die algemene reël is dat die verkoper verantwoordelik is daarvoor om die agentekommissie te betaal, tensy die partye anders ooreen kom in die koopkontrak.

Wanneer ‘n koper ‘n aanbod op ‘n eiendom wil maak, is dit baie belangrik dat hy nie sommer enige dokument onderteken nie. Onder andere, moet hy baie mooi oplet na wat hierdie aanbod / ooreenkoms bepaal aangaande die oordragsprokureur wat aangestel word en die agentekommissie. Byvoorbeeld: as die koper in die kontrak aanspreeklik gehou word vir die maksimum oordragsfooi en die agentekommissie vir ‘n huis van R1 miljoen, en hy moet ‘n volle lening by die bank aangaan (wat ‘n verbandregistrasie meebring), dan gaan die koste addisioneel tot die koopsom ongeveer soos volg lyk:

Hereregte (belasting betaalbaar aan SARS) R 7,500.00
Oordragsfooi (BTW ingesluit) R 18,700.00 
Verbandregistrasiefooi (BTW ingesluit) R 17,000.00
Agentekommissie @ 7,5% plus BTW  R 85,500.00
Totale koste R128,700.00

Daar was onlangs ‘n geval waar die oordragsprokureur (wat nie ‘n aktevervaardiger is nie) bo en behalwe bogenoemde, die koper verder aanspreeklik wou hou vir ‘n fooi van ongeveer R13,000 vir die opstel van die koopkontrak! Sodoende het die kliënt (koper) se rekening R141,700 beloop, waar dit na regte in die omgewing van R43,500 moes wees, sonder afslag.
As hierdie koper egter vooraf ‘n aktevervaardiger gaan sien het, kon hy die regte advies bekom aangaande die agentekommissie, en onder sekere omstandighede ‘n afslag beding het op die oordragsfooi. Die bank stel die verbandregistrasieprokureur aan; welke fooi ook teoreties onderhandelbaar is (die spesifieke bank se burokrasie speel ‘n groot rol hier).

Slotsom: daar is ‘n rede waarom daar van ‘n prokureur verwag word om ‘n verdere eksamen te slaag, alvorens hy ‘n aktevervaardiger kan word. As die kliënt graag spesialis diens wil hê, moet hy immers dan met die spesialis self werk. In die proses kan die kliënt vir homself groot onkoste en onnodige komplikasies spaar. 

 
Tags: Property
Share: